Die StadStem
09/07/2026
Mangaung se wetstoepassing bestaan net op papier, sê DA
Deur Bernell Simons
Die Demokratiese Alliansie (DA) het die Mangaung Metro skerp gekritiseer en voer aan dat die stad se Wetstoepassingsdepartement ná bykans nege jaar van beloftes steeds nie behoorlik funksioneer nie. Volgens DA-raadslid Dirk Kotze skets die metro se jongste Derdekwartaal-prestasieverslag vir Openbare Veiligheid en Vervoer ’n prentjie van sukses deur inspeksies en operasies uit te lig, maar versuim dit om die belangrikste vraag te beantwoord: waar is die sigbare, volledig operasionele wetstoepassingsdiens wat inwoners belowe is?
Kotze sê die departement is volgens ramings met sowat 84% onderbeman, terwyl verskeie beamptes wat reeds hul wetstoepassingsopleiding voltooi het, steeds nie aangestel of ontplooi is nie. Hy beskryf dié situasie as onaanvaarbaar en waarsku dat Mangaung sonder voldoende wetstoepassers nie sy infrastruktuur teen kabeldiefstal en vandalisme kan beskerm, munisipale verordeninge doeltreffend kan afdwing of onwettige storting, onwettige grondgebruik, informele handel en ander oortredings behoorlik kan aanspreek nie.
Hoewel die metro se verslag aandui dat 92 misdaadvoorkomingsoperasies, 248 straatverkope-operasies, meer as 4 100 inspeksies by private sekuriteitsmaatskappye en 14 arrestasies gedurende die kwartaal uitgevoer is, meen Kotze hierdie syfers bied min gerusstelling aan inwoners wat steeds daagliks met onwettige storting, kabeldiefstal, beskadigde infrastruktuur, onwettige besetting van munisipale eiendom en voortdurende oortredings van verordeninge gekonfronteer word.
Hy sê die verslag verwys wel na ondersteuning tydens openbare geleenthede, raadsvergaderings en multidissiplinêre operasies, maar bevat min inligting oor volgehoue buurtpatrollies, die beskerming van munisipale bates of pogings om die publiek se vertroue in wetstoepassing te herstel.
“Mangaung se inwoners verdien sigbare wetstoepassing wat verordeninge afdwing, openbare bates beskerm en veiligheid in elke woonbuurt verseker,” sê Cllr. Dirk Kotze.
Volgens Kotze skep die huidige situasie die indruk dat die metro eerder op selektiewe ontplooiings fokus as om ’n professionele en volledig toegeruste wetstoepassingsdiens op te bou wat alle inwoners gelyk dien. Hy beklemtoon dat wetstoepassing nooit politieke belange moet beskerm terwyl gemeenskappe met swak dienslewering en toenemende misdaad worstel nie.
Die DA sê ’n DA-beheerde Mangaung sal kritieke vakatures vul, opgeleide beamptes onmiddellik aanstel, wetstoepassers sigbaar in al die stad se wyke ontplooi, gespesialiseerde eenhede teen infrastruktuurmisdaad en onwettige storting vestig, tegnologie beter benut en nou saamwerk met die SAPD en gemeenskapspolisiëringsforums.
Kotze glo die herstel van wet en orde is noodsaaklik om dienslewering te verbeter, belegging na Mangaung te lok en die metro weer ’n veilige stad vir sy inwoners te maak. “Mangaung kan nie herstel sonder sigbare, professionele en aanspreeklike wetstoepassing nie,” het hy afgesluit.
07/07/2026
Nasionale Tesourie vries befondsing aan 69 munisipaliteite te midde van verdiepende finansiële krisis
Deur Bernell Simons
Inwoners van verskeie munisipaliteite regoor Suid-Afrika kan binnekort die gevolge van toenemende finansiële onstabiliteit ervaar nadat die Nasionale Tesourie die billikeaandeeltoekennings (equitable share) vir Julie 2026 aan 69 munisipaliteite tydelik teruggehou het weens volgehoue finansiële wanbestuur.
Die besluit raak munisipaliteite in al nege provinsies, waaronder verskeie in die Vrystaat, soos die Mangaung Metropolitaanse Munisipaliteit, die Maluti-a-Phofung Plaaslike Munisipaliteit, die Matjhabeng Plaaslike Munisipaliteit, die Masilonyana Plaaslike Munisipaliteit, die Dihlabeng Plaaslike Munisipaliteit en verskeie ander.
Volgens die Nasionale Tesourie is die besluit daarop gemik om finansiële dissipline af te dwing nadat jare se waarskuwings, tegniese ondersteuning en betrokkenheid nie daarin geslaag het om ernstige oortredings van die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur (MFMA) reg te stel nie. Tesourie sê baie munisipaliteite maak steeds skuldig aan ongemagtigde, onreëlmatige, vrugtelose en verkwistende uitgawes, stel onbefondsde begrotings op, versuim om skulde aan Eskom en waterrade te betaal en neem nie dissiplinêre stappe teen amptenare wat vir finansiële wanbestuur verantwoordelik is nie.
Die ingryping wek kommer dat sommige munisipaliteite moontlik nie hul finansiële verpligtinge sal kan nakom nie, insluitend die betaling van werknemers se salarisse en die voortgesette lewering van basiese dienste indien die tekortkominge nie dringend reggestel word nie. Die Tesourie beklemtoon egter dat die terughouding van fondse tydelik is en daarop gemik is om nakoming te verseker eerder as om munisipaliteite te straf. Die fondse sal vrygestel word sodra die voorgeskrewe vereistes nagekom is.
Die finansiële prentjie wat die Tesourie skets, is kommerwekkend. Sedert die 2021/22-boekjaar het munisipaliteite meer as R145 miljard aan onreëlmatige uitgawes, R24 miljard aan vrugtelose en verkwistende uitgawes en R118 miljard aan ongemagtigde uitgawes opgehoop. Daarbenewens skuld baie munisipaliteite steeds miljarde rand aan Eskom, waterrade, die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) en pensioenfondse.
Vir inwoners van die Vrystaat is die insluiting van Mangaung en Maluti-a-Phofung van besondere belang. Albei munisipaliteite worstel reeds met infrastruktuuragterstande, verslegtende paaie, onbetroubare water- en elektrisiteitsvoorsiening en toenemende openbare ontevredenheid oor bestuur en dienslewering.
Die Tesourie se besluit stuur ’n duidelike boodskap dat finansiële aanspreeklikheid nie langer onderhandelbaar is nie. Met die volgende plaaslike regeringsverkiesing op die horison, sal die besluit waarskynlik die debat oor goeie regering, dienslewering en leierskap verder aanwakker, terwyl kiesers toenemend bevoegdheid en verantwoordbaarheid saam met politieke lojaliteit sal oorweeg.
03/07/2026
MADIBENG SE MUNISIPALE BESTUURDER OORLEEF SKYNBARE MOORDAANSLAG
Deur Matshidiso Selebeleng
Waarheen is Suid-Afrika op pad?
As selfs politici en senior staatsamptenare die teiken van gewapende aanvalle word, hoe veilig is gewone landsburgers?
Elke skietvoorval laat meer vrae as antwoorde. Is enigiemand nog werklik veilig?
Wat d**k jy? Voel jy nog veilig in Suid-Afrika? Deel jou mening hieronder.
Die munisipale bestuurder van Madibeng, Quiet Kgatlha, sterk tans in ’n hospitaal aan nadat hy Woensdagaand ’n skynbare sluipmoordaanval oorleef het toe onbekende aanvallers sy voertuig met koeëls bestook het.
Volgens die Suid-Afrikaanse Polisiediens het die voorval op die Zilkaatsnek-pad in die rigting van Hartbeespoortdam plaasgevind. ’n Donkergrys VW Polo TSI met Gauteng-registrasie het glo Kgatlha se voertuig verbygesteek voordat twee onbekende mans vanuit die voertuig verskeie skote afgevuur het.
Ten spyte daarvan dat hy twee keer raakgeskiet is – een keer in die arm en een keer in die been – het Kgatlha daarin geslaag om beheer oor sy voertuig te behou en tot by ’n vulstasie naby Zilkaatsnek te ry, waar hy hulp ontvang het.
Nooddienste het vinnig op die toneel gereageer en hom na ’n plaaslike hospitaal vervoer. Hy is tans in ’n stabiele toestand.
Kolonel Adele Myburgh sê die polisie ondersoek ’n saak van poging tot moord, maar die motief vir die aanval is nog onbekend.
Die voorval volg nadat Kgatlha verlede jaar geskors is weens beweerde finansiële wanbestuur rakende ’n behuisingskontrak. Die Hooggeregshof het egter later sy skorsing tersyde gestel nadat bevind is dat dit verval het voordat enige dissiplinêre stappe afgehandel is. Hy is daarna in sy pos herstel.
Die polisie doen ’n beroep op enigiemand met inligting oor die skietvoorval om na vore te kom, terwyl die ondersoek voortduur.
D**k jy dit was ’n doelgerigte sluipmoordaanval, of lê daar meer agter hierdie skietery? Deel jou mening in die kommentaar.
01/07/2026
Kan Suid-Afrika op ’n gevaarlike pad wees? Die dun lyn tussen die bekamping van onwettige immigrasie en vreemdelingehaat
Deur Bernell Simons
Die landwye optogte teen onwettige immigrasie het ’n nuwe en moeilike debat in Suid-Afrika ontketen: Waar trek ’n mens die streep tussen die afdwinging van immigrasiewette en die gevaar van vreemdelingehaat?
Duisende mense het op 30 Junie in stede en dorpe regoor die land die strate ingevaar om die regering op te roep om strenger teen ongedokumenteerde immigrasie op te tree. Betogers het ook geëis dat grensbeheer verbeter, misdaad daadwerklik bekamp en dienslewering aan Suid-Afrikaners voorrang geniet.
Organiseerders het volgehou dat die optogte nie teen buitelanders as sodanig gemik is nie, maar teen onwettige immigrasie en die regering se versuim om bestaande immigrasiewette toe te pas.
Die Afrika Mayibuye-beweging het die veldtog ondersteun en die optogte beskryf as een van die grootste gekoördineerde protesaksies sedert Suid-Afrika se demokratiese oorgang in 1994. Die beweging het deelnemers geloof vir hul vreedsame optrede en bewerings verwerp dat die veldtog deur buitelandse of politieke belange aangevuur word.
Tog waarsku kenners en burgerregtegroepe dat die toenemende spanning rondom immigrasie maklik kan omswaai in vyandigheid teen buitelanders – ook dié wat wettig in Suid-Afrika woon en werk.
Suid-Afrika het reeds oor die afgelope twee dekades verskeie uitbarstings van vreemdelingegeweld beleef. Sulke voorvalle het tot sterftes, beserings, die vernietiging van eiendom en die ontheemding van duisende mense gelei. Dit laat die vraag ontstaan of die huidige klimaat soortgelyke risiko’s kan verhoog indien emosies verder aangehits word.
Terselfdertyd wys baie Suid-Afrikaners daarop dat hul kommer oor onwettige immigrasie nie noodwendig as vreemdelingehaat afgemaak moet word nie. Hulle voer aan dat die staat ’n grondwetlike plig het om landsgrense te beveilig, immigrasiewette toe te pas en seker te maak dat openbare dienste, gesondheidsorg, behuising en werksgeleenthede doeltreffend bestuur word.
Die uitdaging vir die regering is nou groter as ooit: om die wet konsekwent toe te pas, sonder dat dit lei tot intimidasie, diskriminasie of geweld teen mense op grond van hul nasionaliteit.
Namate die debat al hoe meer emosioneel raak, rus daar ook ’n verantwoordelikheid op politieke partye, gemeenskapsleiers en die publiek om die gesprek verantwoordelik te voer. Die onderskeid tussen onwettige immigrasie en buitelanders as mense bly ’n belangrike een.
Die komende weke kan bepalend wees vir hoe Suid-Afrika hierdie sensitiewe kwessie hanteer – of dit nou deur sterker wetstoepassing, groter samewerking of verhoogde spanning gekenmerk sal word.
Wat d**k jy?
Is Suid-Afrika reg om strenger teen onwettige immigrasie op te tree, of is daar ’n gevaar dat die huidige debat in vreemdelingehaat en vergeldingsaanvalle kan ontaard?
Deel jou mening in die kommentaar, maar hou die gesprek respekvol en binne die raamwerk van die wet.
01/07/2026
DA skud kabinet behoorlik op: Ramaphosa keur nuwe span vir Regering van Nasionale Eenheid goed
Deur Bernell Simons
President Cyril Ramaphosa het ’n omvangryke herskommeling van die Demokratiese Alliansie (DA) se verteenwoordigers in die Regering van Nasionale Eenheid (RNE) goedgekeur. Die veranderinge bring ’n nuwe leierspan na verskeie belangrike nasionale departemente.
Die aanstellings, wat op 30 Junie deur die Presidensie bekragtig is, volg op aanbevelings deur die DA se nasionale leierskap as deel van ’n hersiening van die party se kabinetsontplooiings.
Een van die grootste verrassings is die verskuiwing van John Steenhuisen, wat sy pos as Minister van Landbou verlaat om as Adjunkminister van Handel, Nywerheid en Mededinging te dien. Sy plek word ingeneem deur Willie Aucamp, wat die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing verlaat om voortaan die Departement van Landbou te lei.
Die herskommeling beteken ook die einde van die ampstermyn van drie DA-adjunkministers. Samantha Graham-Mare is onthef as Adjunkminister van Elektrisiteit en Energie, Sello Seitlholo verlaat Water en Sanitasie, terwyl Mimmy Gondwe nie langer Adjunkminister van Hoër Onderwys sal wees nie.
Die drie voormalige adjunkministers het bevestig dat hulle amptelike skrywes van die Presidensie ontvang het waarin hulle vir hul diens aan die land bedank word.
Die nuwe span bring ook vars gesigte na die nasionale uitvoerende gesag. David Maynier, tans Wes-Kaapse LUR vir Onderwys, sal na verwagting die nuwe Minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing word.
Verder is Alexandra Abrahams as Adjunkminister van Elektrisiteit en Energie aangestel, Jack Bloom neem oor as Adjunkminister van Water en Sanitasie, terwyl Yusuf Cassim die nuwe Adjunkminister van Hoër Onderwys word.
Die herskommeling is die grootste verandering aan die DA se span sedert die vorming van die Regering van Nasionale Eenheid ná die 2024-verkiesing. Politieke ontleders meen die party probeer hiermee sy invloed in die nasionale regering versterk en homself beter posisioneer vir die uitdagings wat voorlê.
Met die nuwe span in plek sal alle oë nou gerig wees op hoe die DA sy rol binne die koalisieregering gaan vervul en of hierdie veranderinge tot beter dienslewering en groter politieke stabiliteit sal lei.
01/07/2026
Einde van ’n era: Mangaung-gevangenis verdwyn ná 25 jaar – Grootvlei Maximum neem amptelik oor
By Bernell Simons
Ná 25 jaar is die naam Mangaung Korrektiewe Sentrum amptelik iets van die verlede.
Presies om 00:01 op Woensdag 1 Julie 2026 het die Departement van Korrektiewe Dienste die sleutels van een van Suid-Afrika se mees omstrede maksimum-sekuriteitsgevangenisse oorgeneem. Daarmee is ’n historiese hoofstuk afgesluit waarin die fasiliteit deur Bloemfontein Correctional Contracts (BCC), onder bestuur van G4S, bedryf is.
Van vandag af staan die gevangenis bekend as Grootvlei Maximum Korrektiewe Sentrum en val dit onder die Grootvlei-bestuursgebied.
Die oorneming is die grootste verandering by die fasiliteit sedert dit in 2001 as ’n openbare-private vennootskap geopen is. Die besluit volg ná jare van omstredenheid, insluitend die ontsnapping van die veroordeelde moordenaar en verkragter Thabo Bester, wat ernstige tekortkominge in toesig, veiligheid en bestuur blootgelê het.
Nasionale Kommissaris Makgothi Thobakgale, wat die oorneming persoonlik bygewoon het, het gesê die proses was die resultaat van meer as twee jaar se beplanning.
“Amptenare is vroeg reeds ontplooi om bedrywighede te monitor, werwing is voltooi en alle stelsels is in plek. Vanaf vandag dra sowel personeel as oortreders die standaarduniforms van die Departement van Korrektiewe Dienste.”
Volgens Thobakgale het die gladde oorgang bewys dat die departement gereed is om die fasiliteit professioneel en doeltreffend te bestuur.
Die verandering is egter veel meer as net ’n nuwe naam op die ingangshek. Dit beteken dat die Suid-Afrikaanse regering weer volle beheer het oor een van die land se grootste maksimum-sekuriteitsgevangenisse – ’n fasiliteit wat die afgelope paar jaar wêreldwye opslae gemaak het.
Hoewel die oorneming sonder voorval afgehandel is, is die saak nog nie heeltemal afgehandel nie. Vakbonde het reeds hul misnoeë uitgespreek oor die oorgang van personeel, terwyl die Departement beklemtoon dat die veiligheid van personeel, gevangenes en die publiek steeds die hoogste prioriteit bly.
Vir Bloemfontein en die land begin daar vandag ’n nuwe era. Die naam Mangaung Korrektiewe Sentrum verdwyn ná ’n kwarteeu uit die geskiedenisboeke, terwyl Grootvlei Maximum Korrektiewe Sentrum nou die verantwoordelikheid dra om vertroue in Suid-Afrika se korrektiewe stelsel te help herstel.
01/07/2026
GASTEHUIS IN DIE KOLLIG
’n Gastehuis in die hart van Bloemfontein: Hoe kon dit onder almal se neuse gebeur?
Deur Bernell Simons
’n Gastehuis wat vir jare deel van Bloemfontein se sakelandskap was, is nou die middelpunt van een van die grootste polisiesoektogte en immigrasie-ondersoeke wat die stad die afgelope tyd beleef het.
Die eiendom, wat vir baie inwoners as ’n gewone gastehuis bekend was, het skokgolwe deur die gemeenskap gestuur nadat ’n gesamentlike operasie van die SAPD en immigrasiebeamptes ongeveer 28 ongedokumenteerde buitelandse burgers op die perseel aangetref het. Die operasie het gelei tot die inhegtenisneming van die man van Mangaung se adjunk-uitvoerende burgemeester, terwyl ondersoeke voortduur.
Volgens Vrystaatse Premier MaQueen Letsoha-Mathae was die mense glo reeds sowat ’n week by die gastehuis en word ondersoek ingestel na die rede waarom hulle daar gebly het.
“Niemand is bo die reg nie, ongeag politieke verbintenisse,” het Letsoha-Mathae gesê terwyl sy ’n deeglike ondersoek na die aangeleentheid geëis het.
Die Premier het beklemtoon dat ondersoekers tans die gasteboek, besprekings en ander bewyse nagaan om vas te stel of die persone wettig daar tuisgegaan het of doelbewus versteek is. Sy het gesê dit sal aan die polisie oorgelaat word om die feite vas te stel voordat enige verdere gevolgtrekkings gemaak word.
Die ondersoek het verder verdiep nadat beamptes na bewering ook ’n Nigeriese paspoort, saam met ’n Suid-Afrikaanse oorledene se identiteitsdokument en sterftesertifikaat, op die toneel gevind het. Die oorsprong en beweerde gebruik van dié dokumente vorm nou deel van die ondersoek.
Die voorval het ernstige vrae laat ontstaan:
* Hoe kon byna 30 ongedokumenteerde persone vir dae lank by ’n gastehuis in ’n besige woongebied bly sonder dat dit vermoedens wek?
* Is alle toepaslike munisipale en immigrasievoorskrifte nagekom?
* Watter verdere bevindings sal die polisie se ondersoek oplewer?
Tydens dieselfde Operasie Shanela is ongedokumenteerde buitelanders, dwelms en groot bedrae kontant ook elders in Mangaung gevind, hoewel die polisie nog nie enige verband tussen hierdie sake bevestig het nie.
Die man wat in hegtenis geneem is, is volgens owerhede nog nie formeel aangekla nie, en die ondersoek duur voort. Geen hof het nog oor sy skuld of onskuld beslis nie.
Die StadStem sal die ondersoek noukeurig volg en verslag doen soos nuwe, geverifieerde inligting beskikbaar word.
30/06/2026
DA verwelkom uitstel van R50-elektrisiteitsheffing; raadslede beskryf nagtelike sitting as gespanne
Deur Bernell Simons
Die Demokratiese Alliansie (DA) sê die Mangaung Metropolitaanse Raad se besluit om die voorgestelde R50-maandelikse basiese heffing vir huishoudelike voorafbetaalde elektrisiteitsverbruikers uit te stel, volg ná toenemende openbare teenkanting en volgehoue druk vanuit opposisiegeledere.
Die besluit is laat Maandagaand, omstreeks 23:30, tydens ’n raadsitting geneem nadat die voorgestelde heffing die afgelope weke wyd gekritiseer is. Gemeenskapsorganisasies en inwoners het ook beplande betogings teen die tarief aangekondig.
Volgens DA-raadslid Rudi Maartens is die uitstel ’n belangrike oorwinning vir inwoners wat hul stem teen die voorgestelde heffing laat hoor het. Hy meen die besluit toon dat openbare deelname en politieke aanspreeklikheid ’n rol in die raad se besluitneming gespeel het.
Die DA voer aan dat die voorgestelde heffing ’n verdere finansiële las op huishoudings sou plaas wat reeds onder druk verkeer weens stygende lewenskoste en ander munisipale uitgawes. Die party vra nou dat die Mangaung Metro die volledige koste-van-voorsieningstudie openbaar maak en ’n deursigtige openbare raadplegingsproses met inwoners, wykskomitees en burgerlike organisasies volg voordat enige nuwe tariefvoorstelle oorweeg word.
Die party sê enige toekomstige veranderinge aan elektrisiteitstariewe moet billik en gefaseerd geïmplementeer word om lae-inkomste huishoudings te beskerm, terwyl die volhoubaarheid van die elektrisiteitsnetwerk behoue bly.
Intussen het die PA se hoofsweep in die Mangaung-raad, Gregory Werner, die raadsitting as een van die mees intense vergaderings in onlangse tye beskryf.
“Ek het nog baie om te verwerk. Ons was eers vanoggend vroeg klaar met die raadsitting. Die voorgestelde R50-basiese elektrisiteitsheffing is voorlopig uitgestel. My vermoede is dat dit eers ná die verkiesing weer op die tafel geplaas sal word, aangesien die kwessie politieke druk op die regerende party geplaas het,” het Werner gesê.
Hy het ook kritiek uitgespreek op die VF Plus se stemgedrag rakende die indigent-beleid.
“Die VF Plus het teen die indigent-beleid gestem, maar terselfdertyd gaan soek hulle steun by dieselfde behoeftige inwoners in Heidedal, waar mense reeds onder moeilike omstandighede leef,” het hy gesê.
Werner het verder vertel dat daar tydens die debat ’n woordewisseling met die EFF ontstaan het nadat hy verwys het na Gayton McKenzie en die gebruik van korporatiewe borgskappe vir projekte.
“Die EFF het my sterk gekritiseer nadat ek gesê het die minister probeer om projekte deur korporatiewe borgskappe te befonds eerder as om belastingbetalers verder te belas. Die EFF se sweep het gevra: ‘Wie is McKenzie?’ waarop ek geantwoord het: ‘Hoe vra jy vir my? Die minister bly duidelik huurvry in jou kop.’”
Werner sê die uitgerekte sitting het eers in die vroeë oggendure geëindig en dat hy omstreeks 02:00 by die huis aangekom het. Hy het ook sy mede-raadslid, John de Bruin, geloof vir sy rol tydens die debat en gesê hy was “soos gewoonlik behoorlik aan die brand”.
Hoewel die voorgestelde R50-heffing voorlopig uitgestel is, beklemtoon die DA dat die proses nog nie afgehandel is nie en dat die party die metro se volgende stappe noukeurig sal monitor. Volgens die party moet enige toekomstige besluit oor die heffing eers ná betekenisvolle openbare konsultasie geneem word.
30/06/2026
Vennoot van Mangaung-politikus in hegtenis geneem
SS-verslaggewer
’n Grootskaalse polisieklopjag in Mangaung het gelei tot die inhegtenisneming van die eggenoot van ’n senior metro-politikus nadat owerhede na bewering 28 ongedokumenteerde buitelandse burgers by ’n plaaslike eiendom aangetref het. Die voorval het politieke omstredenheid ontlok te midde van landwye betogings teen onwettige immigrasie.
Die inhegtenisneming het Dinsdag plaasgevind nadat ondersoekers inligting ontvang het oor ’n eiendom wat vermoedelik as ’n skuilplek vir ongedokumenteerde buitelandse burgers gebruik is.
Polisie het op die perseel toegeslaan en 28 buitelandse burgers van verskillende lande aangetref. Hulle is ook in hegtenis geneem vir verdere verwerking ingevolge immigrasiewetgewing.
Die arrestasie kom terwyl burgerbewegings regoor Suid-Afrika landwye optogte gehou het waarin strenger optrede teen ongedokumenteerde buitelandse burgers geëis is.
Die ontwikkeling het skokgolwe deur die Vrystaat gestuur nadat premier MaQueen Letsoha-Mathae bevestig het dat voorlopige ondersoeke daarop dui dat die individue sowat sewe dae lank by die eiendom tuisgegaan het.
Die premier het verder bekend gemaak dat die eiendom na bewering aan ’n senior politikus in die Mangaung-streek behoort.
“Wat ook kommerwekkend is, is dat die eienaar van die gastehuis een van die senior politici in die Mangaung-streek is. Dit is waar dit werklik kommerwekkend raak, maar vir eers doen die polisie steeds hul werk,” het sy gesê.
Letsoha-Mathae het bygevoeg dat die politikus se eggenoot nog nie formeel aangekla is nie en na die naaste polisiestasie geneem sou word vir verwerking terwyl die ondersoek voortduur. Hy sal na verwagting binnekort in die Bloemfontein-landdroshof verskyn.
29/06/2026
MANGAUNG METRO WAARSKU INWONERS OOR VERKEERSONTWIGTINGS TYDENS BETOGINGS OP 30 JUNIE 2026
Deur Bernell Simons
Inwoners van Mangaung word versoek om hul reise vir Dinsdag, 30 Junie, vooruit te beplan nadat die Mangaung Metro bevestig het dat drie openbare optogte ingevolge die Wet op die Regulering van Byeenkomste goedgekeur is.
Die betogings vorm deel van landswye optrede oor kommer rakende ongedokumenteerde immigrasie in Suid-Afrika en sal na verwagting verkeersversteurings in dele van Bloemfontein en Thaba Nchu veroorsaak. Motoriste word aangeraai om alternatiewe roetes te gebruik waar moontlik.
Die eerste optog, georganiseer deur 051 March and March, begin by Batho Gemeenskapsaal. Deelnemers sal vanaf 09:00 bymekaarkom en om 10:00 na die O.R. Tambo-gebou vertrek, waar ’n petisie aan die Departement van Binnelandse Sake oorhandig sal word. Ongeveer 500 mense word verwag.
In Thaba Nchu sal die Thaba Nchu Concerned Community vanaf die Ratlou-kompleks optrek na die Mbabana Kultuursentrum. Die groep sal na verwagting sowat 300 deelnemers insluit en ’n memorandum aan amptenare van Binnelandse Sake oorhandig.
‘n Derde optog, aangebied deur die Forum van Belanghebbendes, sal vanaf Ramkraal vertrek en na die O.R. Tambo-gebou beweeg, waar ’n memorandum aan die Departement van Binnelandse Sake oorhandig sal word. Daarna sal die deelnemers via St Andrewstraat, Harveyweg en Fortstraat na die Ramkraal-gevangenis terugkeer, waar die optog na verwagting omstreeks 14:00 sal ontbind. Sowat 1 000 deelnemers word vir die optog verwag.
Die Mangaung Metro het bevestig dat sy Direktoraat: Openbare Veiligheid en Vervoer, in samewerking met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en ander wetstoepassingsagentskappe, ’n omvattende noodplan in werking gestel het. Die Munisipale Gesamentlike Operasiesentrum is ook geaktiveer om veiligheid en verkeer deur die dag te monitor.
Die munisipaliteit beklemtoon dat die grondwetlike reg op vreedsame betoging gerespekteer word en doen ’n beroep op alle deelnemers om die wet na te kom, verantwoordelik op te tree en met wetstoepassers saam te werk om te verseker dat die verrigtinge vreedsaam verloop.
Gemeenskapslede word intussen versoek om geduldig te wees, verkeersaanwysings te volg en genoeg reistyd toe te laat indien hulle Dinsdag in die betrokke gebiede moet reis.
Foto: MMM Faceboek Blad
Click here to claim your Sponsored Listing.
Category
Website
Address
9300